About
Subscribe
  • Home
  • /
  • Telecoms
  • /
  • Cell C gaan met verenigde boodskapstelsel afskop

Cell C gaan met verenigde boodskapstelsel afskop

By ITWeb
Johannesburg, 19 Jul 2001

Die Helsinki-genoteerde maatskappy Tecnomen het 'n ooreenkoms met Siemens SA aangekondig vir die verskaffing van een van sy produkte vir gebruik in die Cell C-netwerk.

Die maatskappy wat deel is van die Kyro Group, is 'n verskaffer van telekomstelsels wat operateurs kan help om 'n winsgewende oorgang te maak van tweedegenerasie (2G) na ho"espoeddata derdegenerasie-(3G) netwerke.

Die Tecnomen eZONER-stelsel, wat Cell C moet installeer, word voorgehou as 'n verenigde boodskapstelsel wat operateurs in staat stel om hul gebruikers volgens hul behoeftes te segmenteer.

Die produk is verdeel in vier groepe dienste: 'n stemposbestuurstelsel wat 'n e-posleser insluit, 'n "pretsone" wat vermaak, verpersoonliking en geselsfunksies bevat, 'n draadlose dagboekorganiseerder, en 'n posmodule wat e-pos sowel as multimedia-boodskappe kan hanteer.

Tecnomen s^e die eZONER-stemmodule sal binnekort steun vir stemportale en inligtingspoorte wat deur stembevele oopgestel word, insluit. Die boodskapmodule beskik ook oor 'n duidelike opgraderingsbaan tot 3G draadlose dienste soos videoboodskappe.

Die ooreenkoms van sowat $3.5 miljoen vorm 'n klein gedeelte van die totale kontrak van $221 miljoen vir Siemens om Cell C met die grootste deel van sy bedryfsnetwerk te voorsien. Dit sal die eerste gebruik van Tecnomen-produkte op die Afrika-kontinent wees. Die maatskappy fokus sy sake tradisioneel op Europa.

Volgens Tecnomen sal produk voorsiening maak vir een miljoen gebruikers wanneer dit bekend gestel word en kan maklik vergroot word. Die bekendstelling word voor die einde van die jaar beplan.

"Die Tecnomen-oplossing wat oop standaarde en tegnologie voorstaan, bied 'n kragtige en langtermyn argitektuur wat inkomste uit dienste sal verseker en Cell C-intekenare met verbeterde boodskapdienste sal voorsien," word Siemens Telecoms se operasionale hoof, Pete da Silva, aangehaal. "Die noue samewerking tussen Siemens en Tecnomen is uiters belangrik vir albei maatskappye asook Cell C se sukses."

Share