Die verbruikers e-handel tuiste Tenbucks.co.za het gister na net ses ure van handel al hulle ware uitverkoop. Die tuiste het 1 000 bokse, wat elk met goedere ter waarde van R100 gevul is, vir slegs R10 te koop aangebied.
Ontwerp as `n inleiding tot e-handel vir nuweling gebruikers is Tenbucks gesteun deur onder meer Digital Mall en MegaShopper. ECNet, E-Mail Corporation en Tutuka.com was die hoofborge.
Tenbucks beweer dat die vinnige uitverkoping `n Suid-Afrikaanse Internet rekord is. Rolf Eichweber van E-Mail Corporation s^e dat die organiseerders "in ekstase is" met die reaksie. "Dit was nie `n tuiste met wins as doel nie," voeg hy by. "Dit is ontwerp om die hele Suid-Afrikaanse Internet gemeenskap te bevoordeel."
Volgens Eichweber het die bokse meestal geskenkbewyse vir blomme of kompak skywe, pette, T-hemde en `n verskeidenheid van ander items, bevat. Dertig gelukkige kopers sal elkeen `n Pentium III verwerker ontvang.
Omtrent 80% tot 90% van die opbrengs sal aan die Nelson Mandela Kinderfonds en die DBV geskenk word. Tenbucks se toekoms is op die huidige oomblik nog onduidelik.

